
IN Ierland moes hy hitte en toe wind en donker reënwolke trotseer – maar toe vaar die Baaienaar Clive Taverner (64) beter in kleiduifskiet as wat hy ooit op tuisgrond kon regkry.
Só het Taverner, lid van die Protea-span wat aan die kleiduifskiet-wêreldkampioenskap in Banagher deelgeneem het, gister gesê.
Taverner het net-net ’n bronsmedalje in die finale ronde van sy afdeling gemis, met 96,9% akkuraatheid oor die drie dae van die kompetisie. Met dié punte het hy die tiende plek in die veterane-afdeling en ’n algehele 80ste plek uit 450 deelnemers behaal.
“Ek is in my noppies met die uitslae, maar die weer het dit moeilik gemaak. Die eerste helfte van die kompetisie is gekenmerk deur hitte van tot 35 °C. Toe kom die wolke en die wind – wat vir ’n uitdagende kompetisie gesorg het.”
Tog het hy baie uit die kompetisie geleer.
“Eintlik het ek baie met my oë gesteel. Die Australiese span was bitter goed en ek het hulle fyn dopgehou. Ek skiet al 15 jaar, maar het eintlik laat begin en my oë raak ook mos oud.
“Wanneer ’n plat teiken so klein soos ’n piering teen 75 km/h deur die lug geskiet word en jy moet meeding teen talle jonger skutte, dan moet jy maar flink en wakker wees.”
Dit is duidelik nie vir Taverner ’n probleem nie aangesien hy vandag weer na Amerika vertrek. Hy is daarheen genooi om teen meer as ’n duisend ander deelnemers mee te ding in die Grand American-kompetisie. “Dis nogal ’n eer om genooi te word. Gelukkig kan ek nou meer oefen vandat ek verlede jaar afgetree het. Voorheen het ek twee of drie keer ’n maand geskiet, nou kan ek dit ’n paar keer doen – en dit maak beslis ’n verskil.”