
PLAASLIKE OP-veteraantennisspeler en afrigter Ronnie Petersen (72), verteenwoordig die Super Seniors OP-tennisspan tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Tennistoernooi in Johannesburg vanaf 20 tot 25 Mei.
Dié Humansdorp-boorling, wat Suid-Afrika verskeie kere op wêreldtoernooie verteenwoordig het en vanaf 2002 vir die OP Veterane speel, lei die gedugte vierman-span as spankaptein. Hy is die enigste Kouga-speler wat in die span opgeneem is
Daar is egter net een probleem: fondse. Petersen benodig nagenoeg R6 000 om die toernooi mee te maak.
“Ek neem sedert 2002 jaarliks aan ongeveer drie toernooie deel. Nou is my geld op,” sê hy laggend. “Dit sal wonderlik wees as die gemeenskap en besighede my kan ondersteun.”
Die gesoute tennisspeler, wie se liefde vir die sport reeds begin het toe hy ’n tjokkertjie was wat skaars ’n raket behoorlik kon vashou, spog met verskeie prestasies op sy kerfstok.
’n Hoogtepunt tydens die jaarlikse SWD ITF Senior Toernooi in Desember 2012, het Petersen en sy spanmaat, Billy Kehl, die twee Springbok-spelers Mervin Watson en Michael Wolffe, in die stof laat byt tydens hul sege na oorwinning in die naelbyt dubbelstryd vir mans bo 65. In die gemengde span het hy en Valerie Goliath as wenners uit die stryd getree, en in die mans enkelspel het Petersen eerste geëindig in die “back draw”-rondte na hy onderskeidelik die vierde en sesde beste tennisspelers in die land geklop het.
Dié is maar net een van sy vele prestasies op die tennisbaan.
In graad 9 en 10 het hy dwergtennis vir sy skool se tennisspan gespeel en was as een van die topspelers gekroon. Na skool het hy onderwys gaan studeer en sy talent ingespan om kinders die kuns en genot van tennis te leer. Hy spog met ’n Sweedse sertifikaat en vier Suid-Afrikaanse sertifikate in tennisafrigting.
Petersen rig tans leerders van graad 1 tot 12 by die Laerskool Stulting en die Laerskool Paul Sauer af, asook by die Humansdorp Sekondêre Skool, die Hoërskool Nico Malan, die Hoërskool McLachlan en die Hoërskool Victoria Park. Hy rig ook die provinsiale tennisspan by die St Francisbaai Tennisklub af.
Oor die jare het hy verskeie OP Junior-spanne - o.12, o.14, o.16 en o.18 - as afrigter na die SA Junior Kampioenskappe geneem. Verder het hy twee jaarlank ontwikkeling-kinders na Namakwaland geneem, waar hulle verskeie Springbok-titels verower het.
Vir meer inligting, skakel Petersen by 082 746 9699.