
WANNEER EJ Thorne (18) van Port Elizabeth agter die mikrofoon op die verhoog inskuif, verdwyn sy skugterheid soos mis voor die son.
“Ek voel tuis wanneer ek sing; asof ek ’n heel ander mens is,” sê hy en bloos.
Dié tiener van Booysenpark in Port Elizabeth is pas as die beste gospelsanger in die Full Gospel Church of God se SA-tienertalentkompetisie aangewys.
“Ek het die streekronde gewen en moes toe teen die land se beste sangers in Durban deelneem. Nou gaan ek volgende jaar Texas toe,” sê hy. “Daar gaan ek teen die wêreld se bestes meeding.”
Sy liefde vir sang – en veral gospelmusiek – kry hy van sy pa, Edward, wat gereeld by hul huis in Shylockstraat op die kitaar vir sy seun getokkel het.
“Ek was seker so nege jaar oud toe ek eendag saam met my pa sing. Hy het my gestop en gevra waar ek tenoor leer sing het,” onthou Thorne.
“Ek het toe nie eens geweet wat tenoor beteken nie. Ek het toe by die kerkkoor en die lof-en-aanbiddingspan aangesluit en só aan die kompetisie begin deelneem.”
Hoewel hy drome koester om ’n ingenieur te word, is dit ’n sangloopbaan wat hy die graagste wil hê.
“Baie min dinge het tot dusver vir my uitgewerk, maar ek glo dat die Here in beheer is van my toekoms. Wanneer ek sing, sing ek vir Hom en niks anders maak saak nie.”
Met net R5 000 in sy sak samel hy nou geld in vir sy reiskoste wat sowat R35 000 beloop.
“Ons hou op 8 Oktober konsert by die Macedonia Full Gospel Church in Gelvandale as eerste geldinsameling. Daar’s nie juis geld om my in Texas te kry nie, so dit kos harde werk en kophou, maar ja, die Here is in beheer.”