
VIR Merryvale Spesiale Skool in Port Elizabeth is 2016 ’n besonderse jaar.
Hierdie jaar merk hul 60ste bestaansjaar wat hulle met trots vier.
Alhoewel dit ’n fantastiese mylpaal is wat hulle bereik het, is dit nie al wat 2016 ’n opwindende jaar maak nie.
Die Walmer Celtic Gholf-vereniging het besluit om iets spesiaal vir die skool te doen deur ’n gholfdag te reël en alle fondse wat ingesamel word, aan die skool te skenk.
Paul Hand, voorsitter van die vereniging, het gesê dat hulle nog nooit vantevore so iets pro-beer het nie en dat 2016 die jaar was om ’n verskil te maak.
“Dit was ons klub se kaptein, Grant Smith, wat met die idee vorendag gekom het om ’n dag vir liefdadigheid te reël en, omdat hy weet dat my dogter in die skool is, het hy my gevra om saam met die skool te werk,” sê Hand.
Die skool akkommodeer tans meer as 300 kinders, tussen 6 en 18 jaar. Die meerderheid van hierdie leerders kom uit ’n minderbevoorregte agtergrond, en kan nie altyd die nodige toerus-ting bekostig nie.
Die skool het altyd ’n nood vir toerusting of opgeleide onderwysers, dus is die gholfdag ’n ideale geleentheid wat ook die gemeenskap betrek.
“Ek wil eendag graag gholf deel maak van die skool se sportprogram. As ons net een goeie gholfspeler daaruit kry, sal dit die moeite werd wees,” sê Hand.
Die gholfdag-spelers gaan in die Amerikaanse “Scramble” formaat speel. Dit beteken dat al die spelers hulle houe gaan slaan by elke gat en, nadat hulle besluit het watter hou die beste was, slaan hulle die tweede hou van daardie bal se posisie af.
Die koste is R1 000 vir ’n 4-bal wedstryd of R250 per speler. Hand het bygevoeg dat dona-sies in die vorm van geld of pryse ook welkom is.
Daar is een spesifieke gat waar spelers die geleentheid sal kry om in ’n rolstoel te speel.
“Dit is om bewustheid te skep oor die uitdagings wat gestremde persone moet deurgaan,” het Hand gesê.
Die gholfdag sal op 21 Augustus by die PE Gholf Klub in Millpark plaasvind. Dit sal om 7:30vm. begin tot 5nm.
Vir meer inligting, kontak Joe Rossouw by 082 879 5769 of walmercelticgolf@gmail.com