Moeë gebou herrys as koffieplek

Dit is in 1895 gebou en was eens die woning van ’n Baaise burgemeester, maar sedert Oktober verlede jaar is dié gebou in Parkrylaan bekend as die Victorian Veranda. Dié kompleks, wat bestuur word deur Cindy Hoekstra, huisves die koffiewinkel Savages, asook ’n geskenkwinkel.  Foto: Werner Hills
Dit is in 1895 gebou en was eens die woning van ’n Baaise burgemeester, maar sedert Oktober verlede jaar is dié gebou in Parkrylaan bekend as die Victorian Veranda. Dié kompleks, wat bestuur word deur Cindy Hoekstra, huisves die koffiewinkel Savages, asook ’n geskenkwinkel. Foto: Werner Hills

’n EGPAAR van die Baai het nuwe lewe ingeblaas in ’n 111-jarige gebou in Sentraal deur dit in ’n koffiewinkel, Savages, te omskep.

Die winkel is geleë in die gebou bekend as die Victorian Veranda wat ’n belangrike deel van die Baai se geskiedenis uitmaak.

“Dié buurt was vroeër die hart van die stad,” sê Cindy Hoekstra, eienaar van Savages. “Dit was ook destyds die woning van William Savage jr., ’n voormalige burgemeester in die dorp.

Die Savages was bekende Baaienaars aan die begin van die vorige eeu. William Savage sr. het die helfte van die geld vir ons pragtige stadsbib-lioteek gegee, en sy loodglas-portret kan daar gesien word. Dit is dan waar die koffiewinkel sy effens omstrede naam gekry het.”

Die gebou is aanvanklik deur haar man, Konrad, ’n plastiese chirurg in die stad, gekoop om as spreekkamer te gebruik. “Die gebou was erg verwaarloos nadat dit as ’n studentekommune bedryf is en haweloses later hul intrek geneem het. Soos ons meer oor die geskiedenis van die pragtige gebou geleer het, het ons besluit om dit eerder te gebruik vir iets wat ons met die Baaise mense kan deel. “Die idee ontstaan toe om ’n koffiewinkel te hê wat ook konferensies kan huisves, met ’n geskenkwinkel om dit aan te vul.”

Dit was ook vir hulle belangrik om die gebou te restoureer om die erfenis te behou.

“Konrad het die planne self behartig, en baie van die houtstrukture self gebou,” sê Cindy. “Soms moes ons om 22:00 met flitsligte in die gebou rondstap om planne te beraam. Dit was vir ons ’n liefdeswerk – ons wou iets beeldskoons skep waarop die mense van Port Elizabeth kan trots wees.”

Hulle kon die oorspronklike vloere en deure behou, maar het ’n moderne gevoel aan die koffiewinkel verleen waar hulle kon. Toe was die volgende stap om ’n kok te vind.

“Dit was vir my belangrik om mense aan te stel wat gelukkig sal wees hier, want jou werksplek is waar jy ’n groot deel van jou tyd deurbring,” sê Cindy.

“ ’n Vriendin van Kaapstad het vir my ’n kok aanbeveel nadat sy haar kookkuns by ’n private geleentheid geproe het.”

Dié kok, Vanessa Marx, is kort daarna by Savages aangestel. “Ek het haar gebel en dadelik van haar gehou. Toe ek haar later op Google soek, het ek besef ek het die boerpot gewen.”

Dít omdat Vanessa, self ’n Baaise boorling, reeds naam gemaak het toe sy in 2013 die Eat Out Nederburg Rising Star-toekenning gewen het.

“Ek het haar aangestel voordat ek nog haar kos geproe het,” vertel Cindy.

Nou werk Vanessa saam met Ally Kellett, nog ’n Baaienaar wat in Switserland as soetbakker (pastry chef) opgelei is.

Vanessa is in beheer van Savages se spyskaart.

“Die disse wat ons bedien, is alles eenvoudige kos, maar dit word op ’n elegante manier berei. Ons gee baie aandag aan fyner besonderhede, en boonop kook ons op ’n volhoubare, organiese wyse.”

Selfs ná haar jare as kok in Kaapstad is sy steeds ’n Baaienaar in haar hart, sê sy.

“Die stad is kalm en eenvoudig, maar het ook genoeg vonkel en karakter. Ek kan nie wag om te sien hoe dit oor die volgende paar jaar ontwikkel nie. In Kaapstad is daar al jare ’n kultuur rondom kookkuns, maar die Baai het soveel potensiaal,” sê Vanessa.

“Boonop is die mark hier nog nie so vol nie, so daar is meer ruimte om te groei.”

Cindy het juis planne om Savages in 2016 verder te ontwikkel. “Ek het ’n hele paar idees. Ons wil kos-en-wynparing aanbied, en dan wil ons die amfiteater voor die koffiewinkel ook voltooi. Hier wil ons plaaslike musiekkunstenaars laat optree en pieknieks hou.”

Hoewel die ontwikkeling haar baie besig hou, sê Cindy sy is steeds dol oor die kompleks.

“Ek dink nie ek het aan die begin besef hoe baie van my tyd dit in beslag sou neem nie,” erken sy. “Ek sal baie graag ’n dag wil vry hê. Maar ek geniet dit, want elke dag ontmoet ek nuwe mense en die terugvoering is ongelooflik positief. ’n Hoogtepunt vir my en Konrad is as bejaarde Baaienaars ons kom vertel van hoe hulle die gebou onthou, en die leemtes in die geskiedenis daarvan kan aanvul.

“Ons lééf dié plek. Dit is iets wat ek en Konrad saam wou doen en iets wat ons baie liefhet.” – ODETTE KEMP

We live in a world where facts and fiction get blurred
In times of uncertainty you need journalism you can trust. For only R75 per month, you have access to a world of in-depth analyses, investigative journalism, top opinions and a range of features. Journalism strengthens democracy. Invest in the future today.
Subscribe to News24
Lockdown For
DAYS
HRS
MINS
Voting Booth
When assisting your child with remote learning this year, did you:
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Follow the school's comprehensive sexuality education (CSE) curriculum?
13% - 96 votes
Adjust the CSE curriculum to suit the family's morals?
26% - 187 votes
Ignore the schools CSE programme and do your own teaching?
61% - 441 votes
Vote
ZAR/USD
15.25
(-0.09)
ZAR/GBP
20.29
(-0.13)
ZAR/EUR
18.23
(-0.10)
ZAR/AUD
11.25
(-0.23)
ZAR/JPY
0.15
(-0.04)
Gold
1787.51
(+0.09)
Silver
22.67
(+0.11)
Platinum
965.22
(+0.30)
Brent Crude
48.27
(+0.96)
Palladium
2413.01
(+0.60)
All Share
57822.50
(-0.17)
Top 40
53021.58
(-0.12)
Financial 15
11577.71
(-0.58)
Industrial 25
79894.95
(-0.12)
Resource 10
52804.55
(+0.03)
All JSE data delayed by at least 15 minutes morningstar logo