
DIE Oos-Kaapse departement van onderwys het uiteindelik die digitale eeu betree: Dié provinsie werf nou onderwysers aanlyn.
Die departement het amptelik sy aanlyn werwing bekend gestel en nooi alle werklose en tydelike leerkragte om op sy databasis by www.ecdoe.gov.za te registreer.
Oos-Kaapse skole sukkel die laaste paar jaar met ernstige onderwysertekorte, terwyl die departement aanvoer dat daar nie ’n voldoende “hulpbronbank” is om van te kies nie.
Skole, soos die Astra Primêre Skool in die Baai, sit sowat agt maande sonder ’n plaasvervanger van die departement vir ’n onderwyser wat met siekverlof is. Dié skool en talle ander kry ook geen plaasvervangers vir onderwysers wat met kraamverlof gaan nie.
“Die departement (van onderwys) het nog altyd opdraand gehad met die werwing van onderwysers in die provinsie,” sê Mali Mtima, provinsiale woordvoerder oor onderwys.
“Ons gedurige tekort aan leerkragte by skole is omdat ons sukkel om die regte mense vir die poste te kry. Die databasis sal ons in staat stel om lyste te hê van wie beskikbaar is, asook hul volle gegewens vir vakaanbieding.”
Edmund van Vuuren, lid van die portefeuljekomitee oor onderwys in die Oos-Kaap, sê die departement “skep daarmee onnodige hoop vir werkloses”.
Hy sê daar was nog nooit werklik ’n tekort aan onderwysers nie, wel ’n oorvloed.
“Daar is te veel onderwysers in die Oos-Kaapse stelsel en dít is hoekom die tesourie weier om nog geld vir salarisse beskikbaar te stel,” sê hy.
“Die probleem is dat die oortollige onderwysers nie herontplooi word na die skole waar hul vaardighede benodig word nie. Dít is die haakplek. Dis goed dat die Oos-Kaap – alewig die agteros – nou ook ’n digitale, aanlyn databasis soos ander provinsies skep, maar dalk moet hy eers sy huis skoonmaak.”
Netwerk24 het onlangs berig dat die nasionale tesourie weier om ekstra geld vir die aanstel van nuwe onderwysers beskikbaar te stel tensy die provinsie se 4 200 botallige onderwysers herontplooi word. Die departement hoop om die 2 800 vakante poste uit dié geledere te vul.