
DIT lyk of Athol Trollip, uitvoerende burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap, nog lank twee hoede gaan dra.
Trollip is sedert 2002 die DA se provinsiale leier.
Kristoff Adelbert, hoof van die burgemeesterskantoor, sê Trollip het nog nie ’n besluit oor die provinsiale leiersposisie geneem nie.
Bobby Stevenson, DA-leier in die Oos-Kaapse wetgewer en provinsiale onderleier, sê ’n leier word by ’n provinsiale kongres verkies.
“Die kongres vind teen die einde van aanstaande jaar plaas. Lede benoem gewoonlik hul kandidate vir die leiersposisie voor die kongres.”
Die Oos-Kaapse DA-leierskwessie is vroeg vanjaar in omstredenheid gehul toe die provinsiale voorsitter, Veliswa Mvenya, bedank het, maar kort daarna haar bedanking teruggetrek het ná ’n gesprek met Helen Zille.
Mmusi Maimane, DA-leier, het kort daarna op ’n besoek aan die Baai gerugte oor binnegevegte as die rede vir Mvenya se bedanking as bogpraatjies afgemaak.
Trollip het toe gesê die party sal ’n verklaring uitreik “wanneer die kwessie afgehandel is en tot dán nie weer daaroor kommentaar lewer nie”.