’n Skool vir die gemeenskap deur die gemeenskap, is hoe André Engelbrecht, hoof van die Laerskool Paul Greyling, dié skool op die vooraand van die skool se 60ste verjaardag beskryf.
Afrikaanssprekende ouers wat in die 1950s aan die vloot in Simonstad verbonde was, het die skool begin, en dit is steeds ná al die jare diep in die gemeenskap ingegrawe.
“Baie van hierdie ouers het die ongelooflike waarde van moedertaalonderrig, veral op laerskoolvlak, besef,” sê Engelbrecht.
’n Ouerkomitee is in 1955 gestig met die taak om ’n Afrikaanse skool in Vishoek te stig. Die skool is destyds in ’n spoorwegvakansiehuis in Clovelly gehuisves.
Dit het in Januarie 1956 met 43 leerders onder die wakende oog van die eerste hoof, WJ van Wyk, begin.
Dr. PF Greyling, die alombekende akademikus en lid van die Kaapse Onderwysdepartement, het ’n deurslaggewende rol in die stigting van die skool gespeel en daarom is die skool na hom vernoem.
“Baie het sedert daardie eerste jare op politiese en sosiale gebied verander, maar ons is trots en tevrede in die wete dat Laerskool Paul Greyling in ’n funksionele, geïntegreerde en getransformeerde laerskool ontwikkel het.
“Ons bedien nie net die Afrikaanssprekende skoolgemeenskap van Vishoek nie, maar ook omliggende Afrikaanse gemeenskappe in plekke soos Ocean View en Vrygrond,” sê Engelbrecht.
Die skool is steeds aktief in die gemeenskap deur sy betrokkenheid by ouetehuise, voedingskemas, die bewaring van die Silwermyn-moerasland, die aanbieding van wetenskapskoue, sportdae en musiekkonserte.
Greyling sê die personeel van die skool reël ook die jaarlikse leierskapsberaad vir prefekte van omliggende skole.
Baie leerders van die skool is al die vierde generasie wat daar skoolgaan.
“Die skool is trots op die kaliber van leerders wat ons vir hul hoërskoolloopbaan voorberei. Baie van ons leerders lewer uitmuntende prestasies op akademiese-, sport- en leierskapsgebied by hoërskole soos Vishoek en Jan van Riebeeck,” sê Engelbrecht.
“Die Afrikaanse kultuur by die skool verseker dat ons leerders goed op hoërskool vaar omdat hulle ’n goeie opvoeding gekry het en selfgedissiplineerd is,” sê hy.
Die skool bly egter inklusief met die klem daarop om leerlinge volledig tweetalig op te voed. Die skool bied ook beurse vir voorheen benadeelde leerlinge en het sedert 2009 dramaties gegroei – deesdae met ’n crèche wat op die terrein gehuisves word.
Die skool pronk met 210 leerlinge.
“As geïntegreerde, dinamiese en gemotiveerde span sal die beheerliggaam, onderwysers en die ouers van leerlinge van Laerskool Paul Greyling, voortgaan om na voortgesette gehalte-opvoeding vir die kinders te streef, ”sê Engelbrecht
Die skool vier sy 60ste bestaansjaar met ’n kaas-en-wyn-geselligheid Vrydag 2 September, ’n wedstryddag en sosiale geleentheid Saterdag 3 September en ’n kerkdiens in die skoolsaal op Sondag 4 September.