Ek besit hierdie Watergat reeds sedert 2002.
Vroulief en ek het 20 jaar gelede van Johannesburg af hierheen gekom om ná ‘n redelike besige beroepslewe in Gauteng hier aan die Suidkus, ‘n plek ná aan my hart, te kom ‘aftree’ en iets in die gasvryheidsbedryf te begin.
Eers was dit iets anders, toe die Watergat, en groot was my verbasing toe die plek redelik gewild geword het.
Nie die rykword-soort gewildheid nie, maar die goeie maande het die swak maande gemaklik gedra. Mense, veral die seisoensbesoekers, vertel my dis vroulief se kos, ons redelike pryse, en die baie Afrikaans (selfs ons tientalle Engelssprekende klante sê dis die hoofrede waarom hulle hierheen kom).
Ná ‘n jaar hier aan die kus is my ma se broer Oom Pottie ( volle naam Christiaan Hertzog Potgieter ) van Germiston, op sy dag ‘n meneer van ‘n voorryman, een die destydse Simmer en Jack se staatmakers wat die Rooibontspan van die laat vyftigs nie in die steek sou laat nie, ‘n Spoorwegklerk van beroep en ‘n fanatiese Transvaal-ondersteuner, se vrou oorlede.
Sy enigste kind, ‘n dogter, het my laat weet Pottie weet nie wat om met homself aan te vang nie, en wou weet of hy my nie hier kon kom help nie. Hy het in ‘n woonstel op ons erf ingetrek, en is sedertdien die Watergat se hansie-my-kneg.
Hy geniet dit, mense geniet hom, ek en hy kom goed klaar, en sy hande staan vir niks verkeerd nie. Ek is oortuig daarvan sy interaksie met mense hou hom jonk, want hy vat-vat so aan die tagtig, maar het geen skete nie.
Sy pensioen is meer as genoeg vir iemand met feitlik geen lewensonkostes nie.
Waarom bg. geskiedenis? Om die eenvoudige rede daar kom dae wanneer ek wonder of ek hom nie moet vra om liewer by ons kompetisie te gaan rugby kyk nie. Soos Saterdag.
Vir hom die perfekte dag om almal wat nie Lions-ondersteuners is nie, te treiter. Hy doen dit met ‘n glimlag sonder aggressie, en moontlik is dit wat so irriterend is. Jy moet dan self ‘jou pose hou’.
Eerstens was dit die groepie Stormers-ondersteuners wat die oggend moes sien hoe hul span opgefrommel word nadat hulle verlede week se wedstryd weggegooi het. Pottie het sy gebruiklike eiertjie gelê, wat die Stormers se windsterkte laat toeneem het.
Toe vroegmiddag met die Watergat vol van Sharks-ondersteuners, wat kom kyk hoe hul span, wat die vorige week deur die Lions getrap is, die Waratahs, nie juis die sterkste span in die kompetisie nie, behoorlik met tipiese Sharks-rugby klop.
En wat gebeur? Die Sharks, my aangenome span sedert 20 jaar gelede ( want ek was moeg vir ‘n verloorspan ), speel gelykop.
Ons soen dus almal ons susters, met die Sharks nog sonder ‘n oorwinning. Weer het Pottie sy bydrae gelewer om ons om te krap. Hy reken die Du Preez’s, veral pa-afrigter, is ‘overrated’.
Toe kom die kersie op die koek. Hoewel die Blou Bul-ondersteuners deesdae meer bedeesd is, is daar niks verkeerd met hul lojaliteit nie.
Tien van hulle het van die gholfbaan af hierheen gekom om te kyk of John Mitchell se invloed die Lions se tjank kon aftrap.
Pottie het hul vroeg laat verstaan die Bloues mors hul tyd. Ongelukkig was dit ook so.
En ek moet verklaar: Hierdie Lions-span is loshande die beste in die land. Soos iemand gesê het: Hulle het nie ‘n plan B of C wanneer plan A verkeerd loop nie.
Hulle hou by plan A en maak hom werk. Eenvoudig. Teen sewe-uur was die Watergat vol suur mense na die dag se rugby, behalwe een. ‘n Ou man, wat rondbeweeg, bedien en grappies maak soos iemand veertig jaar jonger. ‘n Soort bejaarde huppelkind. Ons wag almal vir die dag dat ‘n span die Lions op Ellis, ekskuus Emiratespark, klop.
Dalk nog die komende naweek, sodat daardie huppel bietjie kan verdwyn en ons rus vir ons siele kan kry wanneer Pottie ‘n week lank stil is.
‘n Kortetjie om mee af te sluit van een van die Blou Bulmanne: ‘My vrou het my omgepraat om by ‘n brugklub aan te sluit.
Ek spring Dinsdag.’