
TWEE jaar en twee maande gelede is die Le Roux-gesin van Uitenhage se lewe totaal omgekeer toe hul dogter Anske (7) met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is.
Nou, 26 maande later, het Anske haar laaste kankerbehandeling gekry en opnuut die lewe gevier. Dit is tradisie vir kankerpasiënte om na die laaste behandeling ’n klokkie te lui.
Anske het nie teruggehou nie. Sy het laat waai met die klokke ... by die skool het sy die klok gelui en ook by die kerk. Soveel so dat inwoners van oral oor Uitenhage verlede Sondag kon hoor dié kerkklokke lui uitsonderlik jubelend.
Anske se ma, Denise le Roux het gesê verlede week was ‘n besonderse emosionele week vir haar en haar man JG.
“Vir my is dit moeilik, ek moet nou weer leer om te ontspan, om nie vir alles te keer nie, om nie ‘n oorbeskermende moederhen te wees nie. Ek moet leer om weer asem te haal en my eie mens te wees. My kind is gesond en sy leef!
“Woorde wat ons gedra en wat ons ontvang het is: Geloof, Hoop, Liefde, Dankbaarheid en Gebed.”
Denise sê Anske het die einde van haar behandeling maklik gevat, “want vir haar is dit fun, geen meer pille of medisyne nie.”
Anske is die dag voor haar 5de verjaardag met leukemie gediagnoseer. Sy is kort daarna per spesiale vliegtuig na die Rooi Kruis- hospitaal in Wynberg, Kaapstad vir haar kankerbehandeling.
Op Anske se Facebook-blad het Denise gesê dat hulle vir Anske gesê het dat hulle vir haar die grootste partytjie moontlik gaan hou wanneer sy klaar is met behandeling.
En so was dit ook.
Vir twee weke het Denise 1 320 kolwyntjies gebak vir dié viering van lewe!
“Dit was my manier om afskeidneem. Ek het gehuil en gelag en gedink en gebid terwyl ek hulle bak. Die eerste 100 wou ek self versier, maar het ‘n klomp vriendinne op bystand gehad wat gehelp het met die res van die versierwerk en verpakking”.
Verlede Vrydag is Anske se partytjie by Laerskool Handhaaf, Levyvale Pre-Primêr en Huppelkind gehou. Sy het ook 26 ballonne die lug ingelaat (vir die 26 maande wat sy kankerbehandeling gekry het) én sy het die skool-klok met oorgawe laat lui!
Anske het ook gaan kolwyntjies uitdeel by Ampath, waar haar bloed oor die 26 maande getrek is; ook by Dr. Jordaan se spreekkamer waar sy gediagnoseer is met leukemia.
Kolwyntjies was ook deel van verlede Sondag se kerkgebeure by NGK Uitenhage-Noord. So-ook die gelui van die kerkklokke!
“Daai mense ken van bid. Ek wens ek kon dankie sê vir elke persoon wat vir haar gebid het, maar ek hoop ek kan vir my min woorde vergoed met ‘n cupcake.
“Daar is so baie mense vir wie ek ‘n cupcake wil gee maar ek dink nie ek kan soveel bak nie! As ek iemand uitgelaat het, kom haal asseblief ‘n cupcake.
Dankie. Van ‘n onco-mamma.”
-HEILIE COMBRINCK