Die verlies van ontdek wie ons nog kan word

Afrikaans se woordwerkers sal ander tale ook moet verken, want die taal kan alle aspirasies nie meer akkom­modeer nie, skryf IRMA DU PLESSIS.

Verreweg die meeste mense is monoglotte – die vermoë om meer as een taal te praat is verstommend yl gesaai. Die diep belewenis van verbondenheid en verknogtheid aan ’n taal wat baie mense ervaar, is daarom ten eerste ’n effek. Dit is die effek van eentaligheid.

Ons verleer vroeg reeds die buigsaamheid van die spraakorgane om die hele reikwydte van menslike klanke en uitspraakvorme te hanteer. Om ’n tweede taal aan te leer indien jy dit nie op ’n baie vroeë ouderdom gedoen het nie, is dikwels pynlik.

Daar is ’n diepe bevrediging daaraan verbonde om oor minstens een taal beheer te hê; om in selfs die donkerste hoekies van ’n taal jou draai te maak; om jouself in taal te kan verwoord.

In die moeilike en kleigetrapte gesprek oor Afrikaans en die toekoms haak die debat dikwels by Afrikaans as die taal van die diepste wese van sy sprekers vas. Maar nie alles aan Afrikaanse mense is regtig so vreeslik Afrikaans nie. ’n Mens sou byvoorbeeld kon sê daar skuil seker nog altyd ’n Amerikaner êrens in die Afrikaanse hart.

In die 1930’s en 40’s, die bloeityd van die Afrikaanse letterkunde, wou gewone Afrikaanse lesers iets lees oor mooi nooiens en fris kêrels en was hulle min gepla met ’n gewroeg in die letterkunde oor die Afrikaner se bittere verlede en verwikkelde verhouding met die grond, die verlede en die toekoms.

Die topverkopers was swak vertaalde, swak gebinde, gewilde Amerikaanse Christelike lektuur, asook Afrikaanse vertalings van die skop-skiet-en-donder genre.

Sestig jaar later bly hierdie soort lektuur die stapelvoedsel van Afrikaanse lesers – hoewel die gehalte van die bindwerk en die taalversorging ongetwyfeld verbeter het. En dié soort lektuur word nie meer uitsluitlik in Afrikaans gelees nie. Die grootste deel van die Afrikaanse lesersmark is Engels magtig en lees misdaad en Christelike lektuur in sowel Afrikaans as Engels.

Die Weber-braai – ’n Amerikaanse produk – is hier so tuis as daar, en die shopping mall is die Afrikaanse en Amerikaanse begrip van openbare ruimte.

Daarom is die feit dat in gesprekke oor Afrikaans se toekoms so min aandag geskenk word aan die mate waarin die verbondenheid aan Afrikaans saamhang met Afrikaans se politieke en ekonomiese mag, ’n stilte wat boekdele spreek.

Wat nooit gesê word nie, is die verbondenheid aan ’n taal word versterk en gevoed wanneer dit vir die sprekers van daardie taal moontlik is om deur die medium van die taal ’n hele reeks ander aspirasies en begeertes te bevredig. Dit sluit in die mees basiese behoeftes, soos om ’n inkomste te verdien, om jou gesin te versorg en om ’n toekoms vir kinders te skep wat beter as die huidige omstandighede is.

Wanneer jy so daarna kyk, is die diepte van die Afrikaanse letterkunde, boekbedryf en koerantwese die uitkoms van ’n sameloop van omstandighede eerder as ’n lotsbestemming.

Afrikaans as ’n politieke projek het aan wit Afrikaanssprekendes ’n toekoms gebied waarby almal – ten minste op die kort termyn – baat kon vind. Daar was plek vir die intellektuele om wêreldletterkunde en filosofie in Afrikaans te verpak; vir die werkersklas om hul kinders na goeie Afrikaanse skole te stuur; vir industrialiste om op die rug van die Afrikaner-nasionalisme ’n sakeryk te bou. Die sement wat die projek aan mekaar gehou het, was die liefde vir taal en ras. Bruin Afrikaanses is van die voordele van die wit klaskompromie uitgesluit.

Benewens die bevrediging van basiese behoeftes is daar natuurlik ook ander aspirasies wat deur taal moontlik gemaak word, soos om verslag te lewer van jou tyd en plek, kennis te produseer en estetiese ervarings in letterkunde en poësie uit te druk. Dit maak van ’n taal ’n volfunksie-kultuurtaal. En tog is dié hoër taalvorme ook maar vir dié wat dit ontgin ’n manier om hul brood te verdien.

Daar was ’n klas Afrikaanssprekendes, die intelligentsia en woordwerkers, wat gemeen het hulle kon slegs deur Afrikaans ’n deel van hul persoonlike strewes verwesenlik. Hulle wou met en in die taal werk. Daarvoor het hulle ’n mark benodig en ’n groep mense met wie (en soms namens wie) hulle kon praat.

Sonder dié groep was Afrikaner-nasionalisme ondenkbaar.

Maar in die twintigste eeu kon slegs drie tale van ’n spreektaal omskep word in ’n taal wat in alle registers funksioneer: Hebreeus, Afrikaans en Indonesies. Al drie tale is gedryf deur nasionalistiese projekte en gevestig deur staatsmag te bekom. Twee van die drie state was kernmoonthede. Dit gee nuwe betekenis aan die uitdrukking ’n taal is kerngesond. Dit beklemtoon dat woordwerkers nie alleen ’n volvlak-standaardtaal kan dra nie.

Weens die politieke en ekonomiese omwenteling van die afge- lope twee dekades en die indringing van die wêreldwye mediabedryf praat die meeste Afrikaanssprekendes nou ook Engels. Vandag is daar ’n hele stratum Afrikaanssprekendes wat lank nie meer die taal benodig om hul persoonlike aspirasies te bevredig nie. Hulle is ingenieurs en bankiers; patoloë en psigiaters. Hulle kan hier werk of elders. Hulle praat steeds Afrikaans, maar is nie daarvan afhankliknie.

Die res van die wit Afrikaanse gemeenskap is entrepreneurs, kantoorwerkers of arbeiders. Hulle is vulstasiebestuurders en installeer besproeiingstelsels. Hulle besit of bestuur restaurante. Die toekoms van die land rus in ’n groot mate op hul skouers.

Vroeër sou die groep mense die behoefte van woordwerkers om Afrikaans te ontgin geduldig en goedmoedig verdra het as deel van ’n projek wat ook hul eie toekoms onderlê. Maar vandag beskou baie van dié mense die behoefte om die hoër funksies van Afrikaans te behou as ’n onsinnigheid, ’n oordadigheid en ’n vergryp in tye waar die rieme dun gesny word. Hul belang by Afrikaanse musiek, vermaak en godsdiens bly groot, maar dit is eerder ’n sentimentele belegging in die houkrag van die wit Afrikaanse gemeenskapsgevoel.

Op die lang termyn gaan hulle belê in die taal wat vir hulle die vermoë sal skep om aan te hou werk. Hulle wil graag Afrikaans by die huis praat, en (wit) Afrikaanse kulturele wortels behou, maar hulle kan werklik nie minder omgee vir intellek- tuele praatjies in Afrikaans nie. Die erodering van die intellek- tuele ruimte vir Afrikaans gaan waarskynlik die volhoubaarheid van skool-Afrikaans ondergrawe.

Sonder politieke en ekonomiese mag, en ontdaan van die wit klaskompromie wat die Afrikaanse kultuurlewe moontlik gemaak het, het Afrikaans nie meer plek vir alle aspirasies nie.

Die kwynende Afrikaanse hoofstroommedia en die kompromieë wat getref moet word om al die taalaspirasies onder een dak te probeer huisves is duidelik in die wedersydse wrewel wat gespu word en die versigtige manier waarmee dié werklikheid benader moet word. Daar is nie meer genoeg politieke en ekonomiese stukrag in die taal om al dié aspirasies te dra nie.

Wanneer taalnasionalisme kwyn, die staat die belegging in ’n taal terugsnoei en die mark ’n ander taal bevoordeel, laat dit die woordwerkers weerloos.

Ek het eenmaal gelees ’n taal wat onder geweldige druk geplaas word, begin sy status en funksies aan ’n ander taal afstaan. Op die krisis-oomblik gooi die kwynende taal, soos ’n sterwende kakkerlakkie, ’n groot aantal woorde van sy rug af. Dit word in die magtige, dominante taal opgeneem.

Soms is die proses van taalverandering en -verwording onverwags. Latyn het nie die basis van moderne Italiaans geword nie – ’n straatdialek het wel.

Soms kan ’n standaardtaal nog lank nadat dit politieke en ekonomiese mag verloor het, ’n besondere uitdrukkingsvermoë behou. Grootse werk sal steeds in Afrikaans gelewer word. Maar Afrikaans se skrywers weet daar is nie meer ’n outomatiese mark vir of vanselfsprekende waardering van hul werk nie.

Soos ander postkoloniale intelligentsia sal Afrikaanse woordwerkers ander tale moet begin verken. Daarmee saam kom verlies en ’n gevoel van ontheemding en vervreemding.

Die am- bivalente verhouding tussen die Afrikaanssprekende individu en die nasie-staat moet erken word. Dié is nie ’n nasie-staat waarbinne ’n mens jou in jou moedertaal in alle ruimtes kan uitleef nie. Afrikaner-nasionalisme het dié ambivalensie verdoesel.

Om ook buite Afrikaans te werk is die eerste stap om aansluiting te vind by ’n breër gros woordwerkers wat in dié land en elders op die vasteland nog nooit in hul eerste taal kon werk nie – en wat al langer, en weens ingewikkelder redes, ’n ambivalente verhouding met ons het.

Deur ander tale te verken, bestaan die moontlikheid vir Afrikaans se woordwerkers om met die nasie in voeling te tree. Wat voorlê, is ’n pynlike proses van ontdek wie ’n mens nog kan word.


Dít is hoe diep ons liefde vir Afrikaans lê, wys leerlinge van die Laerskool Simon van der Stel in Kaapstad met dié plakkate.
Foto: Edrea Cloete
Lockdown For
DAYS
HRS
MINS
Voting Booth
Have you gone out to eat a restaurant since restrictions have lifted?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes I have
13% - 945 votes
No, but I plan to
16% - 1125 votes
No, and I don't plan to
71% - 5024 votes
Vote
ZAR/USD
17.03
(+0.77)
ZAR/GBP
21.36
(+0.75)
ZAR/EUR
19.21
(+0.72)
ZAR/AUD
11.82
(+0.77)
ZAR/JPY
0.16
(+0.75)
Gold
1799.70
(+0.35)
Silver
18.41
(+0.94)
Platinum
837.00
(+0.06)
Brent Crude
42.97
(-0.05)
Palladium
1935.00
(+1.43)
All Share
55636.54
(+0.71)
Top 40
51324.18
(+0.79)
Financial 15
10266.55
(+1.78)
Industrial 25
77546.59
(+0.90)
Resource 10
52169.37
(+0.29)
All JSE data delayed by at least 15 minutes morningstar logo