Die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) is deur
nie-regeringsorganisasies gekritiseer oor van die maatskappye wat hy op sy
volhoubaarheidsindeks insluit. Elise Tempelhoff doen verslag.
In Mei 2004 het die Johannesburgse aandelebeurs
(JSE) se volhoubaarheidsindeks sy buiging gemaak. Die doel van dié indeks is om
beleggers aan te moedig om geld in maatskappye te belê wat hul sake volhoubaar
en verantwoordelik bedryf.
Die indeks onderskryf die King III-kode, wat aandeelhouers en
beleggers riglyne gee oor maatskappye wat volhoubaar (sosiaal, ekonomies en in
die omgewing) werk en dus goeie opbrengste op beleggings sal verseker.
In die omgangstaal word na hierdie drie aspekte as die “triple
bottom line” verwys.
Die volhoubaarheidsindeks kom egter al die afgelope drie jaar kwaai
onder skoot oor van die name wat daarop verskyn omdat van die maatskappye glo
bedenklike omgewingspraktyke volg.
Die Sentrum vir Omgewingsreg (Centre for Environmental Rights) en
die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), albei nie-regeringsorganisasies,
is juis wéér omgekrap oor die jongste volhoubaarheidslys wat die JSE verlede
week gepubliseer het.
Die lys bestaan vanjaar uit 76 presteerders waarvan tien
uitgesonder word as toppresteerders.
Die Groen Skerpioene ondersoek tans twee van die toppresteerders,
ArcelorMittal en Sappi, weens beweerde omgewingsoortredings.
Die Sentrum vir Omgewingsreg (SER) het kort ná die bekendstelling
van die gesogte lys ’n waarskuwing aan omgewingsbewuste beleggers uitgereik om
versigtig te wees voordat hulle in van die maatskappye belê wie se name daarop
verskyn. Die SER bevraagteken al sedert 2010 die maatstawwe wat die JSE se
volhoubaarheidsindeks gebruik wanneer hulle maatskappye en volhoubare werkwyse
beoordeel.
Die SER skryf in die waarskuwing vanjaar se beste presteerders is
onder meer ArcelorMittal, ’n maatskappy wat “herhaaldelik” in die Groen
Skerpioene se jaarverslae uitgesonder word weens beweerde
omgewingsoortredings.
Op sy beurt vra die FVO hoe dit moontlik is dat maatskappye wat in
die Groen Skerpioene se jongste jaarverslag (National Environmental Compliance
& Enforcement Report 2011-2012) genoem word, wéér die volhoubaarheidsindeks
haal.
Die FVO het al in die verlede van die maatskappye weens beweerde
omgewingsoortredings by Corli le Roux, hoof van die volhoubaarheidsindeks, gaan
aangee omdat hulle glo sowel omgewings- as waterwetgewing óf oortree óf
heeltemal verontagsaam.
“Hoe is dit moontlik dat die name van maatskappye wat deur sowel
die Groen as die Blou Skerpioene ondersoek word, jaar ná jaar die indeks haal,”
vra die FVO.
Dié organisasie sê maatskappye wat hulle aan beweerde
omgewingsvergrype skuldig maak en wie se name op die lys verskyn, “gooi ’n skadu
van agterdog” oor dié wat werklik op so-siale, ekonomiese en omgewingsgebied
probeer presteer en wie se name sáám met hulle op die indeks verskyn.
Le Roux sê in reaksie op die kritiek die toepassing, al dan nie,
van wetgewing val buite die volhoubaarheidsindeks se mandaat. Dit is dus nie die
volhoubaarheidsindeks se plig om toe te sien dat maatskappye wat aansoek doen om
insluiting op die lys wetgewing gehoorsaam nie.
Le Roux sê dit is egter vir die JSE belangrik dat maatskappye oop
kaarte speel oor groot oortredings, asook oor optrede téén hulle. Dít bied die
volhoubaarheidsindeks se bestuur die geleentheid om met die maatskappye oor
omstrede kwessies te praat.
Heelwat sulke gesprekke het die afgelope jaar plaasgevind, sê sy.
“Die proses is egter vertroulik en die besonderhede daarvan kan nie openbaar
gemaak word nie.”
Volgens Le Roux is daar baie grys gebiede wanneer maatskappye
wetgewing oortree. Dit is egter vir die JSE belangrik om vas te stel wat die
maatskappy se verhouding is met die reguleerder en of daar gereelde gesprek
tussen hulle plaasvind.
Dr. Koos Pretorius, direkteur van die FVO, het in April vanjaar ’n
brief aan Le Roux geskryf waarin hy sê wetsgehoorsaamheid behoort een van die
strengste vereistes te wees vir die insluiting op die
volhoubaarheidsindeks.
Hy vra hoeveel oortredings ’n maatskappy moet begaan voordat sy
naam van die lys verwyder word. Die FVO het Exxaro al begin verlede jaar weens
sy bedrywighede by sy Glisa-steenkoolmyn buite Belfast by die JSE verkla.
Die JSE is ook ingelig dat die Blou Skerpioene nou besig is met
strafregtelike vervolging van Exxaro. En tog verskyn dié mynmaatskappy se naam
jaarliks op die volhoubaarheidslys, sê Pretorius.
Le Roux sê voorts die volhoubaarheidsindeks streef daarna om
wêreldwye standaarde vir volhoubaarheid toe te pas, maar beskou dit steeds
noodsaaklik om plaaslike omstandighede in ag te neem.
Le Roux het kort ná die bekendstelling van die jongste
volhoubaarheidslys in ’n verklaring gesê weens die sosiale onrus die laaste paar
maande het geen mynmaatskappy vanjaar die toptien-lys gehaal nie.
Die SER sê hy vind dit vreemd dat mynmaatskappye se name van die
toptien-lys verwyder word weens so-siale onrus, maar die volhoubaarheidsindeks
swyg daaroor as dieselfde maatskappye omgewingsoortredings begaan.
In reaksie sê Le Roux die volhoubaarheidsindeks sal in die toekoms
probeer om na groter openheid met betrekking tot omgewings-, sosiale en
regeringsbeleid te streef.
In 2010 het ’n koalisie van nege nie-regeringsorganisasies ’n brief
aan Le Roux en Nicky Newton-King, destyds die JSE se uitvoerende adjunkhoof en
nou uitvoerende hoof van die JSE, geskryf en gesê hulle bevraagteken die
maatstawwe wat gebruik word by die beoordeling van maatskappye. Hulle het hul
kommer uitgespreek oor die indeks se werkwyse en gesê die indeks ignoreer dit
wanneer maatskappye die omgewing vernietig.
Wat van die maatskappye sê:
- Themba Hlengani,
woordvoerder van ArcelorMittal, het nie gereageer nie;
- André Oberholzer,
groephoof van korporatiewe sake by Sappi, sê die maatskappy werk nóú saam met
die Groen Skerpioene. “Ons is daaraan toegewyd om volhoubaarheid na te streef.”;
en
- Hilton Atkinson,
woordvoerder van Exxaro, sê dié mynmaatskappy het aan alle vereistes voldoen wat
die JSE se volhoubaarheidsindeks aan maatskappye stel.


We live in a world where facts and fiction get blurred
In times of uncertainty you need journalism you can trust. For 14 free days, you can have access to a world of in-depth analyses, investigative journalism, top opinions and a range of features. Journalism strengthens democracy. Invest in the future today. Thereafter you will be billed R75 per month. You can cancel anytime and if you cancel within 14 days you won't be billed.