’n TOLBOS kan grootliks beskryf word as die blare en blomme van sekere plante wat, wanneer dit volgroei en droog is, vanself loskom van die wortel of stam en dan rol dit weg in die wind.
Alhoewel daar ’n definitiewe inheemse lekkerte aan die naam is, sal ’n mens definitief nie die vlugtige natuur van hierdie plantsoort met die restaurant wat hy as naamgenoot het, vereenselwig nie.
Tolbos restaurant en winkel op die lieflike plaasdorpie Patensie, het op 17 Augustus sy 33ste bestaansjaar gevier. Dit is voorwaar ’n mylpaal, veral op ’n dorpie waar daar in 1988 bitter min behalwe stofstrate en plaasimplemente te siene was.