HUISE in Suid-Afrika kan in die toekoms eerder met hout as met sement en pleister gebou word.
Nie net sal dit die denke rondom die boubedryf verander nie, maar dit is ook meer omgewingsvriendelik, meen navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) wat ’n studie daaroor in die South African Journal of Science gepubliseer het.
Die US sê in ’n verklaring dr. Philip Crafford van die US se departement bos-en-houtkunde en dr. Brand Wessels, ’n kollega, het die land se houtbronne en die uitwerking op aardverwarmings indien die bedryf in die toekoms groei, ondersoek.